|
Written by Heilie Combrink
|
|
Friday, 23 April 2010 12:36 |
Twee Oos-Kaapse studente was in 'n tragiese ongeluk buite Welkom betrokke waarin een noodlottig beseer is en die ander student steeds in 'n koma is. Mnr. Richard Terblanche (20) van Kirkwood en sy vriendin me. Cleo Giliomee (19) van Uitenhage was op pad na Potchefstroom toe die ongeluk plaasgevind het. Hulle het blykbaar by 'n stopstraat gewag om toegang tot die snelweg te kry en nie 'n aankomende motor gesien nie. Die ander motor het hulle volspoed teen die kant getref. "Net 'n wonderwerk kan haar deurtrek. Dit is 'n ramp. Ons hoop en bid dat sy beter gaan word," sê mnr. André Vosloo, Giliomee se stiefpa. Giliomee is in die Rosepark Kliniek in Bloemfontein opgeneem en is steeds in 'n koma. Volgens Vosloo, wat sedert die ongeluk in Bloemfontein is, was dit Dinsdag, 13 April Giliomee se 13de dag in 'n koma en was daar nog geen verbetering in haar toestand nie. "Infeksie het ingetree en sy is nou in isolasie geplaas. Haar bekken, heup en ribbes is gebreek en inwendig het sy ook baie seergekry," sê Vosloo. Terblanche het in 2008 aan HTS Daniel Pienaar gematrikuleer en daarna aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom begin studeer. Hy is verlede Vrydag in Kirkwood ter ruste gelê. Giliomee het verlede jaar aan Die Brandwag Hoërskool gematrikuleer en vanjaar met 'n kursus in skoonheidskunde aan die Potchefstroom Akademie begin. Vriende van André en Marlene Vosloo het dit goedgedink om hulle finansieël te ondersteun in Bloemfontein waar hulle waak oor hulle dogter en stiefdogter. Omdat dit onbekend is vir hoe lank hulle daar moet bly en verblyfskostes so duur is, is ‘n fonds op die been te bring by Absa bank op Uitenhage. Die rekeningnaam is: M. Jeffrey vir Cleo rek nr. 9243374463 takkode 632005. (Administrasie deur mnr. Neil Bradley van Absa). ‘n Vriendin van Giliomee, Lizanne Calitz, het ‘n groep “Bid vir Cleo” op Facebook gestig waar daar tans 740 lede is. Belangstellendes word uitgenooi om aan te sluit!
|
|
Last Updated on Monday, 26 April 2010 13:53 |