|
Laerskool Handhaaf se 85ste bestaansjaar word op 22 Augustus deur oud- en huidige skoliere en onderwysers, ondersteuners, ouers en vriende gevier met sport, 'n spitbraai en 'n geselllige saamkuier.
Handhaaf het sy ontstaan te danke aan die eertydse Uitenhage opleidingskollege vir onderwysers. Dit was die destydse kollegehoof, me. Ruth Powis, se ideaal om 'n opleidingsfasiliteit te skep waar onderwysers touwys gemaak kan word om as enkel-onderwyser 'n skool te kan bestuur. Dié plan was daarop gemik om onderwysers vir die platteland op te lei.
In 1924 is so 'n "eenmanskool" by die kollege begin. Dit het as Laerskool Jordan bekendgestaan en die eerste onderwyser was me. H.A. van Rooyen en die eerste leerling was Anna Crouse.
Die kollege het later jare gesluit en daar is besluit dat die laerskool die res van die klaskamers gaan okkupeer. In 1932 word me. Magennis as skoolhoof aangestel met twee onderwysers om vir die 44 leerlinge skool te gee.
Mnr. Guillaume van Niekerk word in 1966 aangestel as skoolhoof. Onder sy hoofskap verander die skool se naam na Laerskool Handhaaf en word Afrikaans die onderrigtaal.
In sy opvolger, mnr. Dawid Botha, se tyd as skoolhoof verskuif die skool na die huidige perseel. Op 17 Junie 1977 begin die 685 leerlinge en 33 onderwysers by die nuwe skoolgebou in Channerstraat.
In die skool se 85-jarige bestaan was daar slegs 7 skoolhoofde: Mej. Magennis (1932-1965), mnr. Guillaume van Niekerk (1966-1975), mnr. Dawid Botha (1976-1979), mnr. Laurie Hoon (1980-1986), dr. Johan Roux (1987), mnr. T.C. Botha (1988-2002) en mnr. Pieter Hugo (vanaf 2004).
|