TUIS >> Nuus >> Skole | Schools >> Annibrand-teater "kook" met pittige produksies
Annibrand-teater "kook" met pittige produksies PDF Print E-mail
Written by Heilie Combrink   
Friday, 23 April 2010 12:35

Die Hoërskool Brandwag se Anibrandfees is nie 'n "koel" kultuurfees nie, maar een wat gaan "kook" met 'n verskeidenheid programme wat aangebied word. Die fees duur vanaf 30 April tot 1 Mei.
  Die Anibrand-teater spog vanjaar met twee produksies naamlik Altus Theart se "Hoe 'n man se kop werk" en die bekende storieverteller en skrywer, Antoinette Pienaar, met haar produksie "Antoinette hou Konsert".
  Pienaar sal karoostories vertel soos net sy op haar pittige wyse kan. Sy sal onder andere gesels oor die aardigheid as die reën in die Karoo val en hoe reëndae mans en vroue op verskillende wyses affekteer.
  Beide produksies word in die Barklystraat Teater aangebied. Pienaar se produksie is Vrydag, 30 April om 19:00 en is R90 per persoon. Theart se "Hoe 'n man se kop werk" word Saterdag, 1 Mei om 17:00 opgevoer. Die koste is R90 per persoon. 
  Pienaar sal ook op 1 Mei om10:00 'n kruiepraatjie hou waar sy allerlei rate gaan gee vir al wat 'n pyn en 'n skeet is. Dié praatjie word aangebied op die terrein in die Spar-tent se koffiekuierplek. Bywoning is gratis vir almal op die terrein. 
  'n Teater-werkswinkel vir hoërskoolleerders word deur die twee ervare akteurs, Zetske van Pletzen en Altys Theart aangebied. Hier sal leerders geleer word wat agter die skerms gebeur tydens  verhoog- sowel as televisieproduksies. Dié werkswinkel word op 1 Mei aangebied en die koste is R60.
  Vir meer inligting oor vanjaar se Anibrandfees besoek www.anibrandfees.co.za of skakel die vuurwarm feeslyn 074 867 5050. Kaartjies is te koop by Hoërskool Brandwag of Westway Kafee in die Baai.

Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."