|
Die legendariese rugbyspeler, Harold Karele, is na nege jaar in Frankryk weer tuis op Suid-Afrikaanse bodem en span tans op Despatch uit.
Dié gebore Kapenaar het 'n merkwaardige rugbyloopbaan. Hy is een van min rugbymanne wat tot op die ouderdom van 38 jaar, nog steeds 'n kranige en kragtige teenstaander op die veld is.
Karele se hart is volstoom in rugby en hy sal bitter graag betrokke wil raak by die ontwikkeling en afrigting van dié sport in die Oos-Kaap. Dit is juis hier waar sy professionele rugbyloopbaan afgeskop het!
"Die Oos-Kaap het so baie jong rugbytalent. As die basiese tegnieke en vaardighede van die spel vir die jong spelers soos tweede natuur kan wees en hulle lojaliteit behou kan word, is die OP op die wenpad.
"Met die regte afrigting vorm jy nie net 'n goeie rugbyspeler nie, maar jy bied vir hierdie speler 'n toekoms," sê die geharde losvoorspeler Harold Karele.
Karele meen dat daar ook 'n leemte by afrigters bestaan as dit kom by die fynere tegnieke. Hy het verskeie afrigtingskursusse in Frankryk voltooi en is bereid om dié tegnieke met afrigters te deel.
Sy rugbyloopbaan het in 1988 begin toe hy vir sy Alma Mater Windsor School in Kaapstad uitgedraf het. Van 1994-1996 het hy vir die OP gespeel en daarna vir Boland (1996-1997), Stormers (1998), SWD (1999-2000).
Karele het ook vir die Springbokke uitgedraf sowel as die nasionale 0/23 span.
In 2001 is hy Frankryk toe waar hy vir Tarbes Pyrénées (2001-2003 en 2008-2009) gespeel het. Hy het ook vir ander Franse klubs uitgedraf soos Stade Aurillacois (2003-2004), RC Toulon (2004-2006), en Stade Aurillacois (2006-2008).
Van sy rugbyhoogtepunte is dat hy in 1994 en 1998 as Suid-Afrikaanse Rugbyspeler van die Jaar aangewys is en in 1998 in die Currie-beker finaal vir die Stormers gespeel het.
In 2005 is hy in Frankryk aangewys as Champion de France de Pro.
• Harold en sy vrou Madelein en hulle twee woelwaters, Tristan (7) en Keanan (3), is tans by sy skoonma mev. Annatjie O'Neill op Despatch. Die Karele's is verheug om terug te wees en sou graag hulle in die Oos-Kaap wil vestig indien Harold voltyds by rugby-ontwikkeling en afrigting betrokke kan raak.
|